HSH Atleet wen dubbele goud by SA’s!

Baie geluk aan Robin-Lee Eland met jou fantastiese wen van die 80m Seuns 0/11 by 2018 se SASA Nasionale Primêre Skole Baan en Veld Kampioenskappe wat die afgelope naweek in die Paarl plaasgevind het!  Robin-Lee het gewen met ‘n tyd van 0:09.64 nadat hy sy uitdun met ‘n tyd van 0:10.86 gewen het en hierna ook sy semi-finaal met ‘n tyd van 0:10.72.

Robin-Lee het sy puik prestasie die volgende dag herhaal toe hy ook die 100m Seuns 0/11 oortuigend gewen het!  Sy tyd in die finaal was 0:13,46 nadat hy 0:13.09 in sy uitdun gehardloop het en 0:12.99 in sy semi-finaal.

Robin-Lee het ook aan die Verspring Seuns 0/11 deelgeneem en met ‘n afstand van 4.63m ‘n vierde plek behaal.  Sy afstand was slegs 3cm kort van die derde plek!

Ons is geweldig trots op jou Robin-Lee en kan nie wag om jou terug te verwelkom nie!

Almal by die huis staan bankvas agter jou en Shimonné Schlebusch (Dogters 0/10), wie ook in die Verspring meegeding het en met ‘n afstand van 3.48 onder moeilike omstandighede vir haarself ‘n veertiende plek tydens haar eerste SA’s verseker het!

Baie geluk ook aan TJ van der Walt, wie aan die South African High Schools Track and Field Championships 2018, wat van 21-24 Maart in die PUC McArthur Atletiek stadium in Potchefstroom plaasgevind het deelgeneem het.  Hy het ‘n 13de plek in gietende reën en op ‘n sopnat baan in die 400m Seuns 0/15 behaal.

2018 TJ van der Walt S0/15 400m

Ons is geweldig trots op ons atlete wie hul, dikwels onder uiterste toestande, uitstekend van hul taak gekwyt het en hul beide met prestasie en gedrag onderskei het van die res!  Almal in Hopetown kyk op na julle en beskou dit as ‘n groot voorreg om met julle geassosieer te word!