Glorie vir die swart en goud van HSH

Hoërskool Hopetown se o/15 en o/17 rugbyspanne het Saterdag, 13 Augustus 2016 by Griekwa Park in Kimberley in die ligafinale gespeel. Die skool en gemeenskap was almal baie opgewonde en ongelooflik trots op hierdie 2 spanne, omdat dit die eerste keer in 6 jaar is dat Hoërskool Hopetown weer aan ’n ligafinaal kon deelneem.

Die o/15’s het Daniëlskuil met ’n uitstekende telling van 27-5 kafgedraf. Die drieë was gedruk deur Winston Tuck, Wilikus Badenhorst, Sebastian White en Jataime May. Dit was ’n uitstekende wedstryd en die span het dan ook so die liga jaar onoorwonne afgesluit. Baie geluk aan elke speler wat deel uitgemaak het van hierdie top span van ons. ‘n Baie spesiale woord van gelukwense ook aan Mnr’e Riaan Loubser en Pieter Myburgh wat die span so knap gebrei het.

Die o/17’s was in ‘n taai stryd gewikkel teen Daniëlskuil, en het Hopies se naam hoog gehou al was die telbord nie in hulle guns nie. Hulle eindtelling was 27-34. Die drieë was gedruk deur Luan Murray, Adriaan Badenhorst, Manuel Arries en Patrick George. Baie geluk ook aan hierdie spelers en hul afrigter, Mnr Eddie Lightfoot, vir ‘n puik prestasie!

Ons kan verseker reflekteer op ‘n uitstekende jaar vir ons rugbyspanne, en sien met groot afwagting uit na 2017!