Graad 4 Klasuitstappie: 27 Oktober 2016

‘n Klomp opgewonde Graad 4 leerlinge het op 27 Oktober 2016 in die skoolbus geklim om “leer lekker te maak”.

Hulle eerste stop was op De Bron waar Oom Attie Victor hulle gaan wys het hoe lyk ‘n land wat vol uie geplant is.  Hulle het ook gekyk wat gebeur alles met ‘n wortel voordat hy, skoon en netjies verpak, op die winkelrak eindig.  Elkeen kon ook proe hoeveel soeter en lekkerder ‘n wortel so vars van die plaas is, toe hulle bietjie padkos kon vat.

Van De Bron af het die skoolbus die pad noord aangedurf- oor die Oubrug!  Wat ‘n ongelooflike gesig en ervaring om met die skoolbus oor die stokou brug waarvan hulle vroeër geleer het , te ry.  Dit is mos hierdie einste brug wat deur die Engelse in onbruik gestel is a.g.v. ‘n misverstand!

Van daar het die bus die meer konfensionele roete tot by Wintershoek se rehabilitasie-sentrum, “Wild Hearts”, gevolg.  Hier het die kinders hulle behoorlik vergaap aan al die wilde diere wat hulle van naderby kon beskou.  Daar was apies, bobbejane,‘n bruin hiëna, rooikatte en selfs leeus! Daar was ook wees renoster kalfies en die kinders is toegelaat om hulle te vryf; wat ‘n onvergeetlike belewenis!

Van Wintershoek af het die bus se neus weer suid gedraai, in Telpoort se rigting.  Met hul aankoms op Telpoort moes die kinders sommer dadelik begin tent opslaan aangesien die dag ongemerk vinnig aangestap het.  Toe almal se tente stewig  staan is daar lekker “Op die vliegtuig” konsert gehou.  Hierna was almal rasend honger en het behoorlik gesmul aan die heerlike stokbrood en wors wat hulle gebraai het.  Oom Steffan Badenhorst het die geleentheid gebruik om oud en jonk bietjie meer te leer van ons ongelooflike uitspansel met sy sterreprag.

Hierna is daar op die bakkies gespring vir “die lekkerste pret” van die dag; springhaas jaag!  Sodra die bakkie stop tuimel die kinders af en word daar in alle erns springhaas gejaag.  Ongelukkig was geen van die kinders vinnig genoeg om ‘n hasie te vang nie.  Sommiges se spoed was egter so hoog dat hulle skoon uit hulle skoene gehardloop het!  Die verlore skoene is die volgende dag in die land opgespoor.  Na dese is daar verseker ekstra aansporing om nog harder te oefen in die komende atletiek seisoen.

Na hope pret is daar uiteindelik 01:00 in die slaapsakke geklim.  4 ure later was almal flink uit die vere en reg vir die “Skeerroom geveg”.  Na afloop van die geveg was daar net ‘n klomp salige vuil kinders (en ‘n Oom, Juffrou en kat op die koop toe) en ‘n hoop leë skeerroom houers.  Hierna het die “seerowers” met hul wit baarde skattejag gehou en in die proses ook ‘n klomp mooi dinge in die natuur raakgesien.  Die skattejag het hulle gelei na die rivier waar daar heerlik aan-aan in die water gespeel is, “maar die lekkerste was die kleilatgooi”!  ‘n Mens sou dink dat almal mooi skoon was na die speel by die rivier, maar toe was almal éérs lekker besmeer van die modder!

Alle goeie dinge kom tot ‘n einde en hierdie uitstappie was geen uitsondering.  “ Ongelukkig moes ons weer skool toe kom, maar ek moet sê dit was die lekkerste uitstappie ooit.  Ek was net baie moeg daarna.”

dscn7024

“Ek is so bly ons kon op so ‘n lekker uitstappie gaan en daarom wil ons vir Oom Attie, Oom Hannes en Tannie Susan, Oom Steffan en verseker vir Juf Antoinet baie, baie dankie sê dat julle dit vir ons so lekker gemaak het! ”