“Geldjie asseblief!”, “Geen kos!” en ‘n klomp boemelaars wat saamdrom! Dit is die gedruis waarmee die Graad 7 leerders by hul afskeidsfunskie verwelkom is. Die dag waarna elke Graad 7 leerder met versugting al sy/haar hele laerskool loopbaan uitsien, het uiteindelik aangebreek! Met die intrapslag het dit nou nie juis na so ‘n spesiale geleentheid gelyk nie, want die Graad 6 leerders (ware boemelaars) was behoorlik vuil met deurmekaar hare en al. Die Graad 7 leerders was maar skepties of hulle dit by Klub 33 se hek moet in waag om hierdie geleentheid by te woon…
Soos ‘n wafferse feëverhaal, verander die binnekant van Klub 33 toe in ‘n sprokieswêreld. Die tafels is mooi gedek om te pas by die tema en elke Graad 7 is verwelkom met ‘n springmielie-cone en ‘n heerlike koue koeldrank. Die hoofleiers vir 2017 (Anri Jansen en James-Henry Fourie) het as seremoniemeesters by die geleentheid opgetree. Elke Graad 7 leerder het ‘n blikbeker, gevul met heerlike fudge en met ‘n foto daarop, ontvang. Die Gr.7’s het ook eerstehands verneem wat hulle uniek maak in die oë van die Gr. 6 klas. Daar was onder andere “Die grootste hartebreker” (JJ Fourie), “‘n Boer in murg en been” (Roelie Botha), “Akademikus” (Izaanelize Smith), “Die stoutste tennisspeler” (Lieb du Raan), “Langeraad” (Leilah Hoogstander), “Rugbyspeler wat vir die eerste keer die jaar rugby gespeel het” (Marlon Kibe), om sommer net ‘n paar te noem.
Die ete is bedien en hieroor was die Gr.7’s in die wolke, want wat is nou lekkerder as ‘n hamburger en chips wat boonop gevolg word deur roomys en sjokolade sous! Die aand is volmaak gemaak deur die spitsvondige Gr.6’e wat grappies vertel en sing en ‘n dansbaan met musiek wat behoorlik die voete laat jeuk het.
Graad 7’s, hierdie is die laaste stukkie van jul laerskool loopbaan wat oor is; geniet dit terdeë! Ons groet julle: Totsiens, maar nie vaarwel!