HSH Golfdag 9 September 2017

Op Saterdag, 9 September 2017, het HSH ‘n Golfdag by Hopetown Golfklub aangebied.  Daar het groot opgewondenheid geheers met die aanloop tot die golfdag, aangesien ‘n klomp nie-spelende spelers ook ingeskryf het.  Daar is besluit om slegs 9 putjies te speel om dit sodoende vir laasgenoemde groep ‘n aangename ervaring te hou.

Afslaantyd was 13:00 en 15 vierhande het vol entoesiasme aangemeld by die Klubhuis.  Dit was ‘n heerlike, warm tipiese lentedag, vol sonskyn en die gees van die spelers het hierby aangesluit.

Almal het die dag terdeë geniet en die middag vanaf so 4 uur stuk-stuk begin inkom van die baan af.  Moeë lywe het hulself onder die bome en op die heerlike grasperk kom tuismaak.  Die braaivleisvure is aangesteek en houe is in detail bespreek.

Tussen al die geselligheid en korswil deur is daar besondere goeie golf gespeel die dag.  Die tafels is uitgedra en die prysuitdeling het sommer onder die bome plaasgevind. Die wenners vir die dag was die span van Hopetown Abbatoir, met Tielman van der Walt en sy span in die tweede plek en die Vermeulen-span in die derde plek.

Almal was dit eens dat die dag ‘n reuse sukses was en dat daar nog vele soortgelyke dae in die toekoms gehou behoort te word.