Op 22 Mei 2017 het HSH se leerders ‘n visvangles tydens saalopening gekry!  Mnr. Smit het ‘n paar vrywilligers verhoog toe geroep en gevra dat hulle aan die res die basiese beginsels van visvang verduidelik.  Hierna is almal gevra om bietjie mooi te dink in watter rigting visse swem; stroomop of stroomaf?  Toe almal saamstem dat visse meestal stroomop swem, het twee van die Graad 12 leerlinge ‘n meer in diepte verduidelik gegee van watter rol hul asemhalings- en voedings gedrag hierin speel.

Mnr. Smit het die volgende aan almal teenwoordig voorgehou:

Kies teen die stroom – soos Josua en Kaleb

“Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi.  Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword.  Almal kon dit sien.”  Numeri 14:10

Iemand het eendag gesê dat dit net dooie visse is wat stroomaf swem.  Hoe waar is dit nie!  Dit is baie moeite om stroomop te swem.  Dit vra energie en guts.  Teen die stroom beteken ook jy staan uit en word gesien.  Dis ook nie altyd die gewilde ding om te doen nie, want dit beteken dalk jy bevraagteken ‘n paar dinge wat ander as vanselfsprekend aanvaar.  Jy maak dalk ‘n paar ander mense ongemaklik deur stroomop te swem.

Dit maak my moedeloos dat baie van vandag se jongmense ruggraatloos is en doodgewoon soos pap jellievisse reageer op uitdagings as dit kom by morele waardes.  Hulle doen maar wat die meerderheid doen.  Om “in” te wees is belangriker as om reg te wees. O nee, nie Josua en Kaleb nie.  Hulle staan op vir wat reg is.  Hulle swem stroomop al is dit ongemaklik vir baie ander.  Hulle gaan nie kompromieë aan om soos almal te wees en soos almal te lyk nie.  Dis tien teen twee, maar hulle staan hulle man.

Wat van jou: ruggraat of jellievis?  Speel jy ‘n spel ter wille van gewild wees, of leef jy ‘n lewe van integriteit en staan jy op vir Christelike waardes?  Jy moet ‘n punt bereik van geen kompromieë aangaan met die wêreld nie.  Jy moet ‘n punt bereik waar jy kies vir sekere waardes en daarby hou al kos dit wat.  Moenie net saam met die stroom gaan nie, wys waarvoor jy staan!  Dis wat dit beteken om stroomop te wees.

The person who walks in someone else’s tracks never leaves his own footprints.

Andre Gide said:  “It is better to be hated for what you are, than to be loved for what you are not.”