Laerskool Krieket 2016

Ons was pas klaar met die rugby en netbal seisoen toe die krieketseisoen met mag en mening ‘n aanvang neem in die derde kwartaal.

Die 0/13 krieketspan het op 19 en 20 Augustus 2016 aan die Uppie krieketfees in Upington gaan deelneem. Hulle het Vrydag, 19 Augustus, teen Op die Voorpos gespeel. Ons het ongelukkig verloor met 120 lopies, maar Carlo Louw het goed gekolf en 53 lopies geslaan. Die tweede wedstryd het hulle teen Laerskool Kathu gespeel en ongelukkig met 18 lopies verloor. Carlo Louw het weereens goed gekolf en 66 lopies geslaan. Saterdag, 20 Augustus, het hulle teen Seodin gespeel en met 20 lopies verloor. Dit was ‘n ongelooflike geleentheid vir die kinders en het hulle voorberei vir die seisoen wat voorlê.

Die 0/11 krieketspan het op 25 Augustus teen Hoërskool Douglas in Douglas gaan speel. Douglas het eerste gekolf en 43 lopies aangeteken, waarna ons gaan kolf het en die lopies in die sewende boulbeurt aangeteken het. Hoërskool Hopetown wen dus met 10 paaltjies. Ons openingskolwers, Junaid Jood en Luciën Bosman het onderskeidelik 27 en 11 lopies elk aangeteken.

Op 29 Augustus 2016 het die 0/11 en 0/13 span teen Laerskool De Aar gespeel. Die 0/11’s het ongelukkig met 3 lopies verloor. Die 0/13’s het met 100 lopies gewen. Carlo Louw het 63 lopies (nie uit nie) aangeteken en Lieb du Raan het 53 lopies aangeteken.
Op Maandag, 19 September 2016, het die 0/11 en 0/13 krieketspanne teen Kimberley Junior gespeel. Die 0/11 krieket het met 48 lopies gewen. Ons het eerste gekolf en 102 lopies aangeteken in 20 boulbeurte, waarna Kimberley Junior gaan kolf het en ons hulle uitgeboul het vir 54 lopies. Junaid Jood (31), JF Prins (22) en Maricus Marais (21) het sommer lekker baie lopies aangeteken. Junaid Jood het ook 4 paaltjies gevat.

Die 0/13 krieketspan het hulle wedstryd met 55 lopies gewen. Carlo Louw het 80 lopies vir sy span geslaan. Na hierdie wedstryd is hulle na Hoërskool Diamantveld waar hulle klere vir die Diamantveld Pro 20 Aandreeks aan hulle oorhandig is. Wat ‘n ongelooflike ervaring. Buiten dat elke speler ‘n mooi hemp ontvang het, is hulle ook nog heerlik bederf met ‘n McDonald’s hamburger, chips, koeldrank en roomys. Ons sien uit om te sien wat hierdie span in die toernooi gaan doen.
Daar lê nog ‘n paar wedstryde voor vir hierdie kwartaal, asook volgende kwartaal.