Mini krieket 2016

Mini krieket is ‘n heerlike kwartaal 3 sport vir die kranige sowel as die minder kranige krieketspelers onder ons graad 1 tot 3 seuns en dogters. Dit is baie pret vir elkeen van die jong klomp om deel te neem aan hierdie vorm van krieket, seker omdat ons nie so ernstig hoef te wees nie en dit net kan geniet. Selfs wanneer jy uitgeboul word, is jy nie eers uit nie.

Op 20 Augustus 2016 het twee van ons mini krieket spanne die seisoen begin deur op Jacobsdal se mini krieket dag te gaan deelneem. Die 0/7 span het drie van hulle vier wedstryde gewen en hulle eerste mini krieket wedstryde vreeslik baie geniet. Die 0/8 span het drie wedstryde verloor, een wedstryd gelykop gespeel en een wedstryd gewen.

Op 3 September 2016 het Juffrou Jeanine Badenhorst en Meneer Ebert Bosch drie spanne na Hoërskool Douglas se mini-krieket dag geneem. Hier het HSH gedeeltelike welslae behaal:

Die 0/7 span het beide hulle wedstryde gewen.

Die 0/8 span het beide wedstryde verloor, maar hulle het baie lekker gespeel.

Die 0/9 span het hulle eerste en tweede wedstryde teen JPS en Hoërskool Douglas onderskeidelik net-net verloor,  maar hulle laaste wedstryd teen Jacobsdal sommer ver gewen. Die spelers is op hierdie dag heerlik bederf met worsbroodjies, koeldrank en lekkers.