Dié feestelike geleentheid is vanjaar weer deur ons ATKV-jeugtak, KAALVOETKINNERS, aangebied.  Die komitee wat uit sewe lede bestaan, het weereens bewys dat hulle so ‘n groot projek met vlieënde vaandels kan aanbied.

Hierdie deurnag geleentheid is ‘n groot lekkerte.  Meer as 50 voornemende bakkers en baksters het mekaar die stryd aangesê om die mees oorspronklike gemmerkoekie-variasie te bak.  Die “Gastro-hasie” het loshande gewen!

Mev. Daleen de Wet, het hierna almal se monde laat water met haar kreatiewe, hemelse, soete verleidings:  melkskommels wat goed genoeg is vir konings!

Die bakkery van pankoeke, asook partytjiekoeke het hierna aan die beurt gekom.  Wat ‘n mengkarnaval!  ‘n Mengery, klitsery…deeg wat sekuur afgemeet is…nie te veel, maar ook nie te min nie…net reg!  Dat ons kinders baie kreatief is, is beslis waar!  Die wenners in die pankoek kategorie was dan ook die groep met die baie gepaste naam van die “ Easter bunnies”.

Die wenspan van die partytjiekoeke, die “Oonde-eende” , het ‘n vulkaan in die middel van hul koek gehad!  Die beoordelaars was dit eens dat dié koek beslis die oog gevang het, maar die smaak en tekstuur en hele samestelling het van hul aanbieding die wenner gemaak.  Dit was ‘n aand waar die adamsgeslag beslis gewys het wat in hulle steek.  Hulle sê mos nie verniet dat manne die beste kokke en koekbakkers is nie.  Volgende jaar sal julle dalk net ‘n ander storie sien!

Van sononder tot sonop is daar gesokkie, speletjies en tafeltennis gespeel.  Soos in vanmelewe se dae, het “musical chairs” ook vir groot pret gesorg.  Middernag is die vure aangesteek om die vleisflappies te braai vir heerlike hamburgers met sous!

Mnr. Willie Tuck het ons die volgende oggend om sesuur tydens oggendgodsdiens gevoed met woorde uit ons Vader se hart.  Net die regte ding om moeë kinders op te kikker vir die nuwe dag.  Mnr. Smit het kom saam luister en daarna het almal op die sportterrein na die pragtige sonsopkoms gaan kyk.

Dit is heerlike , skoon pret vir flukse, kreatiewe, plattelandse kinders… Waar in die wêreld kry jy dit nog dat kinders sommer net kinders kan wees?