HSH se Matriek leerders het aan die einde van 2018 saam met duisende ander leerders van regoor die land die Finale Senior Sertifikaat eksamen vir Graad 12’s afgelê. Hulle het al die lewenservaring en kennis wat hulle sedert die dag wat hulle as onseker Graad 1’tjies in die skool ingestap het, toegepas en hul uitstekend van hul taak gekwyt. Hoërskool Hopetown het, te danke aan hierdie groep se harde werk, weereens daarin geslaag om eerste in die Pixley Ka Seme streek en tweede (naas Kimberley Girls High) in die Noord-Kaap Provinsie te eindig. Vir die 27ste agtereenvolgende jaar het ons matrieks ook weer ‘n 100% slaagsyfer gehandhaaf en was hulle dan ook een van slegs vier skole in die Provinsie wat daarin geslaag het om ‘n 100% slaagsyfer te behaal.
Met ‘n klasgemiddeld van 65.5% het 82.4% van die klas geslaag met Universiteitstoelating. Die klasgemiddeld is behaal deur oa 20 vak A simbole, 34 vak B simbole en 28 vak C simbole. ‘n Duidelike bewys dat leerders by HSH onderrig van hoogstaande gehalte van ‘n puik onderwyserskorps ontvang.
Die HSH-span wens elke Matriek 2018 geluk met hul uitstekende uitslae en sien met groot verwagting uit om te sien wat elk van julle in die toekoms gaan bereik. Gryp die dag soos julle tot op hede gemaak het en moet nie toelaat dat enigiets in jul pad staan om jul drome te verwesenlik nie!